Die VKB Bieliemieliefees 2027 - die fees waar jy wil wees

Elke jaar heers daar in Februarie ’n ánder tipe opgewondenheid in Reitz in die Oos-Vrystaat. Dit is wanneer hierdie dorp, wat deur die ritme van die aarde en die seisoene gelei en gevorm word, die finale voorbereidings tref vir die laaste naweek van die maand se VKB Bieliemieliefees.

Mielie-, koring-, soja- en sonneblomproduksie vorm die hartklop van die streek, maar aan die einde van Februarie is alle plant-, saai- en oes-werk afgehandel en is dit tyd om fees te vier, te ontspan en vir die streek se gemeenskap om sy gasvryheid ten toon te stel.

Dan bied die songebaaide dae, met dagtemperature van 24 tot 26 °C, die goue laatmiddae en soms selfs ’n laatmiddag-donderbui, die perfekte agtergrond vir produsente om hul diere te skou, vir verskaffers om met die nuutste beskikbare tegnologie te spog, insetverskaffers om hul veldproewe ten toon te stel, stalletjiehouers om feesgangers met heerlike kos en mooi goed te verlei en vir top- Suid-Afrikaanse sangers om die feesgangers aan die sing en dans te kry.

Van 25 tot 27 Februarie 2027 is dit weer sulke tyd!

Die Bieliemieliefees het homself reeds gevestig as een van die grootste en gewildste landbou- en familiefeeste in die land. Dis nie om dowe neute dat daar jaarliks sowat 12 000 + mense saam hier kom fees hou nie.

Vir die VKB Bieliemieliefees 2027 poog die organiseerders om ’n rekordgetal bul-uitstallers te lok – as ons daarin kan slaag om bek-en-klouseer heeltemal uit te wis. 

Dan wil ons ook die room van die streek se perde byeenbring vir ’n perdeskou.

Soos gewoonlik word van die heel nuutste landboutoerusting en -tegnologie ter waarde van R80 miljoen uitgestal, wat boere van twee tot 80 jaar oud se oë laat skitter. Boere kry ook die geleentheid om te spog met hul heel beste vee in die kudde- en slaglamkompetisie, die beesuitstalling en die ramveiling. 

Die fees is egter nie uitsluitlik vir landbouprodusente nie.

Daar gaan ook die volle spektrum kompetisies wees wat met feeste gepaardgaan. Met van potjiekos-, sterkman-, woldra- en slaglamkompetisies tot aktiwiteite soos toutrek, skattejag op die terrein en Bulletjie-rugby en netbal, is daar meer as genoeg om almal bedrywig te hou. En moenie vergeet van die hengelkompetisie en die gholftoernooi nie.

Die Santam Bieliemielie-marathon 2027 is weer ’n kwalifiseerder vir die Comrades en die Two Oceans, wat dit ’n gesogte marathon vir atlete in die Noorde maak. Deelnemers kan inskryf vir die 42,2 km-, die 21,1 km-, 10 km- óf 5 km-wedloop.

Die pryse wat met al hierdie kompetisies gewen kan word, is beslis nie te versmaai nie.

Die kleinspan word ook met verskeie bedrywighede besig gehou sodat die hele familie die fees kan geniet. Hulle kan aan ’n verskeidenheid diere kom vat en vryf in die “petting zoo”, kameel en stampkarre ry, verborge skatte soek, in die pretpark gaan rondswaai, en nog vele meer.

Die verhoogoptredes deur die room van ons Suid-Afrikaanse kunstenaars, wat altyd sorgvuldig met die hand uitgesoek word, lok elke jaar groot belangstelling en aktiewe deelname. Die organiseerders sorg altyd vir ’n ryke verskeidenheid van kunstenaars en volgende jaar sal daar weer ses topkunstenaars optree en elkeen gaan feesgangers op hul voete hê.

Maak dus seker jy hou die naweek van 25 tot 27 Februarie 2027 oop en bespreek sommer nou al oorslaapplek, want dis baie moeilik om hiervandaan te vertrek as die fees nog aan die gang is. Pak lekker somersklere in vir bedags, ’n baadjie vir saans en ’n reënjas vir ingeval, maar moet asseblief nie jou feesskoene en jou vrolike hart vergeet nie!

 
 

Kontak Ons

Voorsitter / Borge / Kunstenaars
voorsitter@bieliemielie.co.za

Uitstallers / Kampering
073 039 1382

Uitstallers
082 431 4453