Aktiwiteite

Inskrywings

Die organiseerders van die VKB Bieliemieliefees 2019 het 100% meer gegee, gedoen en gereël as vir die vorige 37 feeste! 

Daar is geen ouderdomsperk op pret nie, so, as jy al oud of nog jonk genoeg is vir pret, is Reitz die plek vir jou van 14 tot 17 Febuarie 2019, want dit gaan ’n bielie van ’n fees wees.

Kaartjies

Beskikbaar by jou naaste VKB-tak of by die hek

  Volwassenes Kinders (Onder 13)
Naweekkaartjie R250.00 R150.00
Donderdag, 14 Februarie R60.00 R60.00
Vrydag, 15 Februarie R120.00 R60.00
Saterdag, 16 Februarie  R120.00 R60.00
Sondag, 17 Februarie Gratis Gratis

 

Sangers en vermaak
Vanjaar lei drie opvoerings ten bate van die Hoërskool Reitz die fees in. Gehore sal op 11 Februarie kan identifiseer met die drie broers in die toneelstuk Nêrens Noord-Kaap waarin die broers, wat elkeen hul eie pad stap en al vervreemd geraak het van mekaar, plaas toe moet kom vir hul pa se 60ste verjaardag.
Die tydlose Amanda Strydom sing op 12 Februarie haar gewildste en treffendste treffers van haar bykans 40 jaar in die vermaaklikheidsbedryf.
Op 13 Februarie kan diegene wat wil sien hul dorpsgenote heeltemal buite hul aard optree, kom kyk hoe André, die skreeusnaakse hipnotiseur, dit regkry om mense onder hipnose dinge te laat doen wat jou sal laat krul van die lag.

Op Valentynsdag nooi Dowwe Dolla en Wicus van der Merwe jou om in hul vertoning Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe te kom skater.

Van die ander kunstenaars wat by die fees sal optree, sluit in Juanita du Plessis en haar ewe talentvolle kinders, Bok van Blerk, Lianie May, Jay, Dirk van der Westhuizen, Dewald Wasserfall, Elvis Blue, Elizma Theron en die inspirerende Jo Black.

Tentedorp en kampeerterrein
Danksy die gewildheid van die tentedorp en kampeerterrein, is dit weer terug by die 2019 fees en daar is staanplekke waar Bieliemieliefeesgangers kan tuisgaan teen so min as R700 per persoon vir die hele naweek. Hierdie fooi sluit ook jou toegang tot die Bieliemieliefeesterrein in. Maar jy sal moet gou spring as jy ’n staanplek soek, want die belangstelling is groot.

Sport en kompetisies
Sportentoesiaste kan deelneem aan gholf, krieket en visvang met groot prysgeld Vir die Touch Rugby/Sewes-spelers beloop prysgeld R7 000 vir die wenspan. Pak dus jou balle, stokke, kolwe en visstokke in vir hierdie kompetisies.

Vanjaar is die Bieliemielie-marathon nie net ’n kwalifiseerder vir die Comrades nie, maar ook vir die Two Oceans-marathon. Atlete wat voorheen aan die Bieliemielie-marathon deelgeneem het, weet dat of jy nou die 5 km- of 10 km-pretdraf, die halfmarathon of die marathon hardloop, dit ’n lieflike roete bied.

Vir die manne (én vroue) met 4x4-voertuie is daar weer ’n hindernisroete met prysgeld van R10 000.

En moet tog nie die Bulletjie-rugby- en netbal-kragmetings misloop nie! Hierdie items lok elke jaar groot belangstelling.

VKB Kook bied jou die geleentheid om saam met kykNET se gewildste sepiesterre pizzas te maak en een (of meer) van die verskeie pryse los te slaan.

Streepsakke, eiers, bokmis, mieliepitte, trekkerbande en wie weet wat nog alles, sal beskikbaar wees vir diegene wat aan die Boeresport(s) wil deelneem. Dit bly maar een van die gewildste items op die feesprogram!

Kindervermaak
Die VKB Bieliemieliefees is ’n gesinsfees en daarom word daar ruim voorsiening gemaak vir die kleinspan. ’n Baie betroubare oppasdiens word gebied vir kleingoed sodat hul ouers die hele feesterrein en al sy vermaak kan gaan verken. ’n Ballonkunstenaar, stelteloper, springkasteel en hope maatjies is maar net enkele van die vermaaklikhede wat die fees vir die kleingoed ’n onvergeetlike ervaring maak. En moenie van die pretpark vergeet wat die jaar nog groter met meer ritte vir jonk en oud.

Uitstallers en stalletjies
Die SA Vleismerino-veiling, jongooi-kompetisie en uitstallings van beeste en boerbokke is nog van die staatmakers wat jaarliks groot belangstelling geniet, en met die groeiende belangstelling in die Bieliemieliefees onder stalletjieshouers wat van kos tot kraletjies, braairoosters tot bokvelmatte en juweliersware tot jasse verkoop, moes die komitee mooi besluit wie vanjaar ’n staanplek gaan kry.

Bogenoemde is net ’n lusmaker vir wat alles vir jou by VKB Bieliemieliefees 2019 wag. Ons het nog nie eens begin vertel van die “toegevoegde waarde” wat besoekers jaarliks hier kom ervaar nie. Ons kan nie wag om jou te verwelkom en te verras nie!

 

 

  • dekalb_300_x_120.jpg
  • stdbank_300_x_120.jpg
  • frontier_300_x_120.jpg
  • reitz_gebied_bestuur_300_x_120.jpg
  • landbouweekblad_300_x_120.jpg
  • landbou_radio_300_x_120.jpg
  • rivirwalk_300_x_120.jpg
  • pioneer_300_x_120.jpg
  • vkb_brokers_300_x_120.jpg
  • nupro_300_x_120.jpg
  • hpf_wyn_300_x_120.jpg
  • supersure_300_x_120.jpg
  • granfield_chickens_300_x_120.jpg
  • silver_signature_300_x_120.jpg
  • capegate_300_x_120.jpg
  • drakensville_300_x_120.jpg
  • klein_kariba_300_x_120.jpg
  • sab_300_x_120.jpg
  • molatek_300_x_120.jpg
  • magnifisan_300_x_120.jpg